Belvidere Holy Trinity-kerk | iinfo TZANEEN

Belvidere (op pad na Brenton on Sea) op die westelike oewer van die Knysna-strandmeer, 'n woonbuurt vir gegoedes van die dorp Knysna, is bekend vanweë sy besonderse Holy Trinity-kerk. Hierdie Anglikaanse kerkie is 'n nasionale gedenkwaardigheid en is saam met die mooi omgewing van besonderse toeristiese belang. Die kerkie en sy pastorie is nie beskadig in die brand wat op 7 Junie 2017 'n deel van Knysna en omgewing in puin gelê het nie.
 
Argitektuur en bouwerk
Die kerkie is 'n goeie voorbeeld in miniatuur van 'n gebou in die Normandiese styl van die 11de en die 12de eeu. Tussen 1833 en 1857 was die Belvidere-landgoed die eiendom van kapt. Thomas H. Duthie. Hy het dit gekoop van sy skoonvader, George Rex. Hierdie kerkie is gebou op inisiatief van Duthie as plek van aanbidding vir sy familie, vriende en bediendes.
Sophie Gray, die vrou van die destydse biskop van Kaapstad, het die argitekstekeninge uit Engeland verkry. Henry Barrington van die Portland-landgoed (by Knysna) het plaaslike stink- en geelhout verskaf. Eerw. (kapt.) A.H. Duthie, 'n broer van kapt. Duthie, het in Brittanje 'n aansienlike bedrag geld vir die bouwerk ingesamel. Alhoewel sandsteen skaars is in hierdie kontrei, was'n klein hoeveelheid op die landgoed slegs enkele kilometer van die bouperseel beskikbaar. Drie Skotse messelaars, Alexander Bern en die broers Alexander en Colin Lawrence, is deur biskop Gray vir die projek beskikbaar gestel. Die gehele preekstoel is uit een soliede stuk rots gekerf. 'n Familielid, Francis Newdigate, het die kerkklok geskenk. Dit is in 1854 in Engeland gegiet. Die skip het in die strandmeer met die klok gesink. Dit het maande op die bodem van die strandmeer gelê voordat dit in die torinkie van die kerkie geïnstalleer is. Belvidere het destyds ankerplek aan klein kusvaarders voorsien. In Julie 1849 het die Apama, 'n seilskip van maar 170 ton, sy vrag van 3 000 leiklipdakpanne vir die kerkie gelos. Reeds op 15 Oktober 1851 is die hoeksteen gelê. Op Vrydag 5 Oktober 1855 het biskop Gray van Kaapstad gekom om die kerkie in te wy.
 
Vensters en gedenkplate
Besonder fraai vensters en gedenkborde versier die binnekant. 'n Venster in die suidelike muur herdenk twee kleinseuns van die stigter, naamlik William Moore Duthie, 'n boer te Belvidere, en eerw. Alfred George Duthie. Langsaan is 'n venster gewy aan Bourchier en Jane Bowker, Jane was 'n dogter van kapt. Thomas Duthie. In die sentrale venster bo die deur staan boaan die wapenskild van die Britse koninklike familie en onder die van die bisdom van Kaapstad. Links en regs daarvan is vensters met onderskeidelik die familiewapens van die Duthie- en Barringtonfamilies.
Tussen die toring en bogenoemde drie vensters is 'n ronde siervenster gemaak uit glasskerwe van kerkvensters wat in Engeland tydens die Tweede Wêreldoorlog beskadig is. Vir die honderdjarige bestaan van die kerk en ter herdenking aan 'n vriendin van die Duthie-familie, Annie Armstrong, het C.S. Groves hierdie venster saamgestel. Die laaste direkte afstammeling van die stigter wat die familienaam Duthie hier gevoer het, was sy kleindogter dr. Ave Duthie. Sy was 'n plantkundige van beroep en die stigter van die Departement Plantkunde aan die Universiteit van Stellenbosch.
 
Begraafplaas
Thomas Duthie en sy vrou Caroline (gebore Rex), dr. Ave Duthie, verskeie van hul familielede en hul vriende lê begrawe rondom die kerkie. Verskeie gedenktekens herdenk hulle wat 'n bydrae tot die gemeente gelewer het.
 
(Wikipedia)
 

Add new review

CAPTCHA
This question is for testing whether or not you are a human visitor and to prevent automated spam submissions.
Image CAPTCHA
Enter the characters shown in the image.