Die Taste of Tzaneen 2017 sal Sondag met oorwegend klassieke klanke afgesluit word. Mengelmusici is 'n allegaartjie van kunstenaars wat spesiaal vir TOTF saamgestel is om die aanloop tot die Sondag etensuur in te kleur met klanke wat sag op die oor val.
Die optrede begin 11:00 met Jansen en Mareli van der Walt. Hy en sal met klavier, kitaar en fluit harmoniese klassieke klanke te skilder.
Jansen sing reeds van 2003 af en speel die kitaar en drome. Hy is 'n studio-musikant, regisseur en was een van die stigterslede van die musiekgroep, Teerpad. Hy speel tans vir Limbus Frater, Milaats en Framus. Bedags bestuur hy die bekende Ickinger-winkel se juwele en musiek-afdeling.
Mareli neem van 1989 af musiek en verwerf in 2008 haar Graad 8 dwarsfluit-eksamen. In dieselfde jaar verwerf sy haar B Mus-graad aan die Noordwes Universiteit, met klavier as hoofinstrument. Sy is 'n kindermusiekterapeut, musiekonderwyseres, musiekdirekteur vir konserte en musiekgroepe, self musikant and liedjie- en blyspelskryfster.
In die tweede deel van die program tree René Mynhardt saam met haar seun, Schoeman, op. Laasgenoemde het al op skool begin sing (danksy 'n vriendin se mosie van vertroue) en sing sedertdien gereeld by funksies. Hy het in 2012 matriek geskryf en studeer tans deeltyds ingenieurswese en werk voltyds vir Groenhoek Besproeiing.
Ma René se sangloopbaan het in Hoedspruit begin. Op vriende se versoek hy sy hul afgerig en 'n sangskooltjie begin. Sy het later na Tzaneen uitgebrei, waarheen hul gesin sewe jaar gelede verhuis het. Na 'n paar jaar se klasgee by Hoërskool Merensky het sy die pos as kultuurhoof by die Hoërskool Ben Vorster aanvaar.
Haar sangskool, Rocking Voices, lewer uitstekende sangers op wat dikwels plaaslik optree. Alhoewel sy soms self optree, is dit nou vir haar lekkerder om haar eie kinders se musiek- en sangtalente te beluister en geniet. (Dogter Dané sing self daardie Sondag elders, anders was dit 'n gesinstrio.)
Pieter Kotze is 'n bekende naam in Tzaneen. Hy het nog altyd gehou van sing en onder meer in die Wes-Randse Jeugkoor gesing. Gaste wat gehoor het hoe hy op hul troudag vir vroulief Inge-Marie 'n lied sing, het gevra hoekom hy nie méér sing nie en 'n solo-sangloopbaan is gebore.
Hy het in 2006 'n CD gemaak en sing ligte Afrikaanse en Engelse musiek wat deur alle ouderdomme geniet word. Pieter tree graag op uitnodiging by enige geleentheid op en is passievol oor musiek maak en sing. Hy sing by troues, jaareind-funksies, verjaardae, fondsinsamelings ens. In 2009 het hy saam met die bekende Manuel Escorcio by Tzaneen Country Lodge opgetree.
Bobbi Gerber sing van kindsbeen af in 'n familiekoor saam met haar pa en agt sussies (haar boetie het later begin saam neurie). Sy het in skoolkore gesing, op universiteit en oplaas in die voormalige TRUK (Staatsteater) se operakoor. In graad 9 reeds het sy haar eie liedjies begin skryf en einde 2015 'n CD vrygestel, wat haar eie Afrikaanse luisterliedjies bevat.
Rose de Klerk is die verrassing in die pakket: jare reeds saam met haar uitgebreide familie 'n trotse Tzaneener. Rose sing reeds van tienerjare af en is besonder lief vir karaoke. Sy het in 2006 deelgeneem in die Bamboo Rock Show in Tzaneen en tree by kerkfunksies op. Sy is passievol oor sang.
Add new review