Laat Letaba Rugbyklub leef!
Rugby is groot. Niemand kan stry nie – maar rugby verdien meer aandag in die Groter Tzaneen area. Die Tzaneen Rugbyklub gaan so ver terug as die 1920-30’s. So gewild was dit dat ‘n Letsitele-tak ook gestig is. Weens krimpende belangstelling en getalle, het die twee klubs sowat tien jaar terug saamgesmelt en amptelik die Letaba Rugbyklub geword.
Tans is daar ‘n eerste en tweede ligaspan wat ‘n groep van 23 spelers insluit. Die afrigters is Wikus Swart en Johan Steyn. Die klub voorsitter en onder-voorsitter is Bennie Kruger en Dewald Kamffer. Gawie du Plessis is die president en Jaco Moller klubkaptein.
‘n Opgegradeerde klubhuis word nou deur die bestuur bemark as ‘n kuierplek geskik en oop vir die gesin – vrouens, vriende en kinders welkom! Heerlike etes word hier bedien van 10:00 tot laatnag.
Rugby-oefeninge is Dinsdag- en Donderdagaande tussen 18:00 en 20:00. Aan die begin van die jaar het die klub ‘n James Tolmay-dag gehou wat ‘n jaarlikse instelling gaan word. Die dag is vernoem na ‘n eertydse legend in die omgewing se rugby-kringe.
Die amptelike liga-seisoen begin op 17 Maart en van dan af is dit vir veertien Saterdae – afwisselend uit en tuis wedstryde (behalwe op openbare vakansiedae/naweke). Die publiek word hartlik uitgenooi en aangemoedig om hul dorp se rugbyspanne te ondersteun op die Saterdae wat hulle tuis speel. Kosstalletjies, potjiekoskompetisies, braaigeriewe en vermaak vir die kinders word beplan om dit vir die hele gesin ‘n gesellige dag-uitstappie te maak.
Mans tussen die ouderdomme van 18 en 35 jaar (en ouer, as hulle nog fiks en fluks is) is welkom om te kom rugby speel – geen vorige prestasies nodig nie! Belangstellendes in afrigting is ewe welkom. Die ure van afrigting tel as ondervinding en opleiding, wat hul kwalifikasie as amptelike afrigters aansienlik vergemaklik.
Wanneer die liga-seisoen in Augustus eindig, begin die sewes in alle erns oefen. Diegene wat verkies om sewes te spel, kan dan aansluit. ‘n Ander opsie is om sewes te speel ter wille van volgehoue fiksheid met die oog op die volgende liga-seisoen.
Spelers wat aansluit het toegang tot die spanklere en ‘n klubhemp, asook ‘n spelverwante mediese fonds. Aantreklike ondersteunershemde kan deur lede van die publiek gekoop word.
Veterane asook hedendaagse spelers kan hul eie stoel in die klub koop, wat met die speler se rugbytrui (naam, nommer en spanembleem) oorgetrek. Die stoel is daardie speler se troon wat hom altyd verseker van ‘n sitplek in die Bosbokkroeg.
Die geriewe word beskikbaar gestel vir die publiek om te huur vir enige funksie, viering of plesierigheid. Navrae ten opsigte van enige van bogenoemde kan gerig word aan Bennie Kruger by 083 635 1731 of by benniekruger101@gmail.com.
Klubkaptein Jaco Moller se epos adres is atvtzaneen@yahoo.com vir die manne wat wil bal speel. Winter is om die draai – en die seisoen beteken: RUGBY! Letaba Rugbyklub soek spelers en ondersteuners hierdie seisoen!
Tel: 083 635 1731
Email:
Website: N/A
Address: Tzaneen Skougronde
Letaba Rugbyklub | iinfo Tzaneen