Die Tzaneen Cycling Club bestaan reeds vir baie jare, maar het so 5 jaar gelede doodgeloop.
Die fietsryers van Tzaneen het die afgelope 4 jaar by ‘n ander klub ingeskakel wat nie net op fietsry konsentreer nie, maar ook landloop en tweekamp. Einde van 2009 het die behoefte ontstaan vir ‘n klub wat net op fietsry konsentreer. Vanaf Januarie vanjaar is die ou Tzaneen Cycling Club weer op die been gebring. Die belangstelling in die klub het alle verwagtinge oortref en daar het reeds 48 mense by die nuwe klub aangesluit en hulle fooie vir die jaar betaal.
Die klub het nie net padfietsryers nie. Daar is ’n groot getal van die lede wat ook bergfiets (MTB) doen en dan ook sekere Saterdae MTB in die berge rondom Tzaneen doen.
Limpopo bied ook verskeie MTB wedrenne aan gedurende die jaar waaraan ons lede deelneem. Die klub het ook intussen ’n nuwe fietsryhempie laat ontwerp. Die lede van die klub bestaan uit beginners tot gevorderde ryers. Die klub het elke Saterdag ’n klubride wat bestaan uit 2 groepe ryers. Die een groep is vir die lede wat langer afstande wil ry en die ander groep ry die korter afstande. Gedurende die jaar is daar ook verskeie wedrenne in Limpopo waaraan die lede deelneem.
Die twee grootste wedrenne in Suid Afrika is die Argus en die 94.7. Baie van die klub se lede gaan neem deel aan hierdie twee byeenkomste.
Een van die hoogtepunte vir die jaar gaan die fietstoer wees wat 16 lede van die klub gaan onderneem. Op Vrydag 8 Oktober vertrek die 16 ryers met hulle fietse Durban toe.
Hulle sal elke dag gemiddeld 120km ry en behoort teen Vrydag 15 Oktober in Durban te wees. Op 17 Oktober vind die jaarlikse Amashova (3de grootste wedren in SA) wedren plaas tussen Pietermaritzburg en Durban. (Die grootste gedeelte van die roete vind plaas op die bekende Comrades Marathon roete.) Die afstand is 106 km. Lede gaan dan ook aan hierdie wedren deelneem. Die gees tussen die klublede is fantasties en partykeer word daar so gesels en geskerts dat daar amper vergeet word om fiets te ry. Miskien is dit ’n goeie idee om nou te besluit om die Argus in Maart 2011 te gaan ry.