Tel: 082 739 4477 Email:

miens.willers@vodamail.co.za

Website: N/A Address: Evangelies Gereformeerde Kerk, Adshadestraat, Tzaneen
VLU Oggend Tak | iinfo Tzaneen

Geskiedenis van die VLU :

Majoor Hunt se inisiatiewe lei tot stigting van Transvaalse Vroue Landbou-Unie as ’n afdeling van Transvaalse Landbou-Unie op 8/9/1925 onder voorsitsterskap van me Edith O’Connor. Spoedig word takke dwarsoor die land gestig en op 29/9/1931 kom die Suid-Afrikaanse Vroue Landbou-Unie tot stand met me Edith O’Connor as presidente.
 
In September 1995 ontbondel die Transvaalse Vroue Landbou-Unie ten einde tred te hou met veranderinge in Suid-Afrika en Vroue Landbou-Unie Noord ontstaan.
 
VLU Noord bestaan uit drie streke, Bosveld, Soetdoring en Koraal, en bedien die hele Limpopo deur middel van meer as dertig takke dwarsoor die provinsie.
 
Tzaneen VLU is op 16 Julie 1968 gestig en het vinnig gegroei tot een van die mees aktiewe takke wat uitstekend op beide streek- en provinsiale vlak presteer. Tzaneen VLU is een van tien takke in Koraalstreek

Moontlik het jy al gehoor iemand sê : “Alles wat ek kan doen, het ek by die VLU geleer.” Vir talle vroue is dit die waarheid!

Die Vroue Landbou-Unie is ’n wonderlike organisasie wat opvoedingsgeleenthede aan die vrou bied om haarself as vrou af te rond en te bekwaam – by die VLU leer ’n vrou lewenslesse en lewensvaardighede.Die organisasie voorsien die vrou ook van inligting, vaardighede en geleenthede om gemeenskapsbetrokkenheid te stimuleer.

Die VLU bied jaarliks ’n wye verskeidenheid kompetisies aan. Lede kry dus geleentheid om hulle vermoëns en talente te ontdek en te ontwikkel. Kompetisiedeelname is die ideale geleentheid om nuwe vaardighede te bemeester en jou standaard te meet. Onthou asseblief kompetisiedeelname is nie verpligtend nie!

Enige volwasse vrou, of meisie ouer as 14 jaar, is welkom om by die VLU aan te sluit. Indien jy ’n wonderlike geleentheid soek om jouself te verryk, nuwe vaardighede aan te leer, jou talente te ontdek én te ontwikkel, heerlik saam met vriendinne te ontspan, en nog vele meer, kom kuier gerus by Tzaneen VLU elke derde Dinsdag van die maand om 09:30 in die saal van die Evangelies Gereformeerde Kerk in Adshadestraat.